In die moderne samelewing waarin ons onsself bevind, is dit so maklik om
oorweldig te voel deur die massas inligting tot ons beskikking. Dit is
geen uitsondering met die proses van die opleiding van onderwysers,
pedagoë en selfs kurrikulumtegnikuste nie.
Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is 'n
onderwyser 'n "persoon wat na ['n] afgelegde eksamen bevoeg verklaar is
om les te gee aan 'n hoër of laer skool." Die HAT verklaar ook 'n
pedagoog as 'n "persoon wat hom toelê op die studie van die pedagogie".
'n Kurrikulum word verklaar as die "studiekursus" of "leergang" wat 'n
kurrikulumtegnikus as't ware dus ontwikkel.
Uit bogenoemde verklarings is dit duidelik dat al drie hierdie
professies of rigtings 'n direkte uitwerking of effek op die kinders wie
hierdie opvoeding van bogenoemde persone ontvang, sal hê. Dit maak dan
net sin dat die onderwyser, pedagoog of kurrikulumtegnikus een doel voor
oë moet hê: om hierdie leerders te inspireer om te leer.
'n Mens is so geneig om vas te val in 'n raamwerk van reëls en rigiede
strukture met betrekking tot die opvoeding van Suid-Afrikaanse kinders,
maar 'n mens se nommer een uitkykspunt in die onderwys moet wees om te
inspireer - daarom my finale argument:
Dit is aanvaarbaar dat daar standaarde en beleide moet wees, maar elke
onderwyser, pedagoog of kurrikulumtegnikus moet opgelei word om ander en
daarom leerders te inspireer deur hul optrede, kennis en vaardighede.
Is dit nie hoe ons 'n land gaan "vorentoe neem" as kinders die toekoms
van môre is nie?